DIE BOEK - ek. frankryk. 246 dae.
2016 – privaat uitgegee deur CHAOS.
207 bladsye, A5 volkleur, hardeband, geringbind.
Grafies-ryk en lekker om te lees.
DIE BOEK - WAAROOR?

Verbeel jou jy is 18 jaar oud, vars uit skool en staan op OR Tambo lughawe met ’n vliegkaartjie na Frankryk en twee kontaknommers in die hand. Verbeel jou dat jy, ten spyte van ‘n ondeurdenkte plan, 8 maande later weer op OR Tambo staan met ‘n kop vol herinneringe en lewenservaring. Vol stories van ‘n reis van stad tot stad, gesin tot gesin en etenstafel tot etenstafel waar jy hierdie land se mense leer ken het en hulle geselskap, taal, kos en kuns geniet het. Hoe het dit gebeur? In “ek. frankryk. 246 dae.” vertel ek hierdie verhaal van my ‘gap’-jaar met dagboekinskrywings uit my eie pen, foto’s deur my eie lens en kleure geverf met my eie kwas. ’n Ontdekkingsreis van leef en beleef in ’n vreemde land – vir jonk en oud om te geniet!
Die boek is relevant vir jong mense wat ‘n soortgelyke ondervinding wil hê, maar effe onseker is oor hoe om dit aan te pak en wat om te verwag. Die boek bevat daarom heelwat wenke in dié verband. Met die persoonlike groei wat ek ondervind het, kan dit amper as ‘n ‘coming of age story’ beskou word. Juis daarom is die boek ook relevant vir ouers wat wonder hoe ‘n tipiese dag van so ‘n ‘gap’-jarige lyk, wat sy beleef en hoe sy die mense en omgewing rondom haar waarneem. Die laaste hoofstuk wat ek ‘n maand na my terugkeer geskryf het, is ‘n brief aan Frankryk, wat menige leser ‘n laaste traan laat pink.
DIE BOEK - WAAROM?
Tydens my hoërskoolloopbaan in Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria het ek die geleentheid gehad om saam met ander brawe dogters in madame Annemarie de Munnik se klas van “fromage” en “ma soeur” en “bleu-blanc-rouge” te leer. Die bekoring van hierdie klanke het my bygebly, tot waar ek matriek geskryf het onder leiding van madame Mientjie Carbonell, nadat madame de Munnik aan die einde van my graad-10 jaar afgetree het. Die toer na Parys en Normandië wat madame Carbonell in my laaste jaar op skool gereël het, was net verdere aansporing om wéér terug te gaan. Ek was nog nie uitgekuier aan hierdie mooi land nie. Uiteindelik het ek besluit om een van my baie jong drome te gaan ondersoek en voor my studies ‘n “gap”-jaar in Frankryk deur te bring. ‘n Jaar
het weens verskeie redes in slegs 8 maande (propvol ervaring!)
verander. Na hierdie onvergeetlike avontuur alleen in ‘n vreemde land, het ek die boek in 2016 die lig laat sien.
- Olivia -
Die aangee van die aflosstokkie van ‘n jong meisie wat iets geleer het oor die lewe en oorlewing in ‘n vreemde land, en die oordra van haar wysheid na die volgende jongmens, word in die Oscar-genomineerde fliek, ‘Brooklyn’, doeltreffend
oorgedra. Nadat ek Olivia se joernale gelees het oor haar jaar in Frankryk het dieselfde gewaarwording as in ‘Brooklyn’ by my opgekom: die sirkel van die lewe. Olivia wat in Frankryk haarself oopgestel het vir die wysheid en kennis van almal, jonk en oud, waarmee sy in aanraking gekom het. Deur die deel van haar joernale op ‘n uiters kreatiewe manier met besondere sketse, foto’s, grafika, erns, humorsin, fyn waarnemings en beskrywings neem sy ons saam op haar reis. So gee sy met hierdie boek die aflosstokkie aan na die volgende jong avontuurlustige wat die wêreld én hom-/haarself wil ontdek.
- Sunet Swanepoel -
DIE BOEK - JY WIL DIT HÊ?
R220 (pos-/koerierkoste uitgesluit). Bestellings kan by a@lootse.co.za geplaas word. Sê vir ons wat is jou adres waarheen jy die boek versend wil hê, ons sal versendingskoste bereken en finale bedrag aan jou stuur vir EFT-betaling. Bankbesonderhede vir EFT-betaling sal gegee word wanneer bestelling geplaas word.